Random House Struik het sopas hulle eerste e-Boek bekend gestel, onder die druknaam Umuzi. Praat verby grense deur Laurie Gaum en Frits Gaum is gelyktydig in druk en e-Boek formaat vrygestel. En aangesien dit oor die algemeen 'n paar dae neem vandat 'n boek beskikbaar is, tot die boek op die rakke in die winkels is, kan die ywerige lesers wat van e-Boeke gebruik maak, hulle hande voor die res op 'n kopie van die boek kry. Hierdie e-Boek is tans op kalahari.net beskikbaar.
Oor Praat verby grense:
Ds. Laurie Gaum en sy pa, dr. Frits Gaum tree met hierdie e-poswisseling in gesprek oor gay-wees, die kerk, die Bybel, vergifnis en geregtigheid.
Dae nadat dit in 2005 in die pers aan die lig gekom het dat NG-dominee Laurie Gaum gay is, pleeg sy lewensmaat selfmoord. Binne dié mediastorm word Laurie van sy amp ontslaan, ’n besluit waarteen hy later suksesvol sou appelleer. Intussen woed daar ’n vurige debat oor homoseksualiteit, ’n saak wat dreig om kerke in Suid-Afrika en wêreldwyd te skeur. Hierdie gebeure sou Laurie en sy pa, dr. Frits Gaum, bekende predikant en redakteur van onder meer die Kerkbode, uitmekaar kon dryf, maar die teenoorgestelde gebeur.
In kalmer dae wissel pa en seun e-pos oor talle kwessies wat met die kerk en homoseksualiteit verband hou. Hulle praat ernstig en reguit maar ook met respek en liefdevol oor die Bybel en seksualiteit, verdraagsaamheid en vergifnis, oor die dood en oor hoop, geregtigheid, mens-wees, die samelewing, rassisme, bevrydingsteologie ... en altyd weer oor God.
Praat verby grense word ’n ontroerende en inspirerende gesprek tussen twee begaafde mense wat hulle eie en mekaar se grense uitdaag en verskuif.
e-Boek ISBN: 9781415202753
druk weergawe ISBN: 9781415201244





